Sisita oorgehaal as Ixias-kaptein

0

Die feit dat hy as Ixias se nuwe kaptein vir die Varsitybeker-reeks aangewys is, gaan niks aan sy spel as yster-flank vir die Sentrale Universiteit van Tegnologie verander nie.

So gesels die klipharde flank Frans Sisita nadat hy verlede week die kapteins-pligte by die senter Charlie Hitchcock oorgeneem het. Hitchcock het in sy span se voorbereiding vir Maandag se tweede Varsitybeker-wedstryd teen die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit se Madibaz in Port Elizabeth sy dyspier geskeur en sal die res van die seisoen buite aksie wees.

Die onderkaptein, die haker Anrich Bitzi, is in Ixias se nederlaag van 10-46 verlede week teen die Universiteit van Johannesburg in die Rosestad beseer en sal dus nie teen die Madibaz in aksie wees nie. Juis weens sy uitstekende lakwerk en inklimspel het die Ixias-breier, Skillie Bester, besluit om Sisita met die leierskaprol toe te vertrou.

Frans Sisita is een van die ervare staatmakers op wie die Ixias-afrigter, Skillie Bester, se knoppie sal druk in vanjaar se Varsitybeker-reeks.

Frans Sisita is een van die ervare staatmakers op wie die Ixias-afrigter, Skillie Bester, se knoppie sal druk in vanjaar se Varsitybeker-reeks.

“Ek voel werklik bevoorreg dat die afrigters my met die kapteinskap toevertrou en dat die spelers my daarin ondersteun. Dit is ‘n groot taak, maar niks gaan verander wat my spel op die veld betref nie. Ek gaan steeds kliphard inklim,” het Sisita vanaf die bus op pad na Port Elizabeth beklemtoon.

As die kragmeting teen UJ enigsins as wegwyser gebruik kan word, gaan die kragmeting teen die Madibaz ook ‘n klipharde, fisieke tweestryd wees, veral tussen die pakke voorspelers. “Ons verwag dat die Madibaz baie fisiek gaan wees, selfs meer as UJ. Daarom koester ons nie enige wan-indrukke oor wat op ons wag nie. Dit gaan hard wees,” het Sisita bygevoeg.

Terwyl individue soos Sisita se verdediging teen UJ uitstekend was, het Ixias as span gesukkel om hul verdediging-strukture aan die gang te kry. Sisita het bevestig dat hy en sy spanmaats in aanloop tot die Madibaz-stryd behoorlik aandag gegee het aan hul lakwerk.

“Ons het baie daaraan gewerk om ons lakwerk op te knap. Ons moet soos ons teenstanders se skaduwees wees. Altyd naby hulle. Ons moet ons verdediging-strukture goed aanwend en seker maak ons maak daardie eerste duikslag,” het Sisita afgesluit.

Share.

About Author

Leave A Reply