Lood straks net ses weke buite aksie

0

Die Cheetahs se Springbok-slot en yster, Lood de Jager, sal straks net ses weke buite aksie wees nadat hy Saterdag in sy span se sege van 35-29 oor die Sharks in Durban sy elmboog beseer het.

De Jager, wat een van die Springbokke se staatmakers was die afgelope ruk, het  in die tiende minuut van die Cheetahs se oorwinning sy elmboog beseer en is van die veld begelei. Daar is aanvanklik vermoed dat hy sy elmboog gebreek het, wat ‘n groot impak op sy Wereldbeker-deelname sou gehad het, maar die Cheetahs se afrigter, Naka Drotske, het aan DigiSport bevestig dat die yster-slot net ligamente seergemaak het en ses tot agt weke buite aksie sal wees.

Die bykomende goeie nuus is dat die sentrale streekspan vandeesweek ‘n loslootjie geniet, wat beteken dat die eerste week van De Jager se herstel geen impak op die Cheetahs teweegbring nie.

“Dit is vir ons baie goeie nuus dat Lood se elmboog nie gebreek is nie. Dit is net ligamente, en hy behoort oor ses tot agt weke weer beskikbaar te wees,” het Drotske Maandag beklemtoon.

In die afwesigheid van De Jager is Carl Wegner as plaasvervanger op die veld gestuur en het hy uitstekend vertoon. Hy het nie net in die lynstane tuis gelyk nie, maar ook in die losgemale sy kant gebring en is uiteindelik ook met sy eerste drie in Super Rugby vir sy harde werk beloon. Hy behoort dus die man in die saal te wees as De Jager se plaasvervanger, terwyl Drotske ook kan besluit om Oupa Mohoje van flank na slot te skuif en Boom Prinsloo van die plaasvervangerbank af op te trek.

“Carl het baie goed gespeel toe hy opgekom het. Daar was ander positiewes ook, soos byvoorbeeld die skrums. Danie Mienie het regtig sy kant gebring, terwyl die res van die pak ook baie goed was. Ons verdediging was ook uitstekend, terwyl ons takties baie goed geskop het,” het Drotske afgesluit.

Die Cheetahs se volgende kragmeting oor twee weke is teen die Blues in die Vrystaat-stadion in Bloemfontein. Die wedstryd vind die Vrydagaand om 19:00 plaas.

Share.

About Author

Leave A Reply