Nuwe Curriebeker-breier vir Vrystaat?

0

Naka Drotske sal steeds die Cheetahs vir volgende jaar se Superrugby-reeks afrig, maar die moontlikheid bestaan dat die Vrystaat-Cheetahs in volgende seisoen se Curriebeker-reeks met ‘n nuwe hoofafrigter aan die stuur van sake kan speel.

Daar was na afloop van vanjaar se Curriebeker-reeks, waarin Rory Duncan as hoofafrigter diens gedoen het, verskeie gerugte dat laasgenoemde ‘n beduidende rol in die Cheetahs se soeke na Super-glorie sal vertolk, maar die besturende direkteur van die Cheetahs Maatskappy, Harold Verster, het aan DigiSport bevestig dat die huidige Super-spanbestuur van Drotske en Os du Randt vir die komende internasionale kompetisie onveranderd bly en dat Duncan, nes vanjaar, in 2015 as Vodacombeker-afrigter ingespan sal word.

“Naka is baie beslis nog ons Superrugby-afrigter vir 2015. Wat volgende jaar se Curriebeker-reeks betref is ons nog in gesprek oor die aangeleentheid en besig om dit te finaliseer. Ons hou op 22 November ‘n finale bosberaad waarna daar meer duidelikheid sal wees,” het Verster onderstreep.

Franco Smith (links) was in vanjaar se Curriebeker-reeks die hulpafrigter van die Vrystaat en Rory Duncan (regs) hoofafrigter. Foto: DigiSport

Franco Smith (links) was in vanjaar se Curriebeker-reeks die hulpafrigter van die Vrystaat en Rory Duncan (regs) hoofafrigter. Foto: DigiSport

Drotske het pas van Japan af teruggekeer waar hy sy kennis gaan verbreed het en was derhalwe nie by vanjaar se Curriebeker-reeks betrokke nie. Duncan, Du Randt en Franco Smith het die reeks hanteer. Smith gaan vroeg volgende jaar die Shimlas brei vir die Varsitybeker-reeks en dit is ook nog onduidelik wat sy betrokkenheid by 2015 se Curriebeker-reeks gaan wees.

Drotske is tans besig om deur die vergrote Superrugby-groep te sif en sit met heelparty talentvolle spelers. Dit is nie vergesog om te dink dat vanjaar se vergrote groep een van die mees belowendste in jare is nie. Drotske kan dus kies en keur en sal homself net gunste bewys as hy ‘n sterk Super-groep aanmekaar kan sit wat die sukses van 2013 se reeks kan ewenaar.

Duncan se hervatting van sy pos as Vodacombeker-afrigter beteken dat daar bestendigheid sal wees by die Vrystaters wat die plaaslike reeks betref. Onder sy wakende oog het die Bloemfonteiners net-net op ‘n plek in die halfeindronde van die kompetisie uitgemis en sal hulle beslis daarop uit wees om volgende jaar minstens die halfeindronde te haal. Dieselfde geld vanjaar se Curriebeker-reeks, waar die Cheetahs net-net nie die uitkloprondes gehaal het nie en uiteindelik vyfde klaargemaak het.

Share.

About Author

Leave A Reply