De Jager kan Lood-pil vir Leeus-lynstane wees

0

Die Vrystaat-Cheetahs se Springbok-slot Lood de Jager sal Saterdag die besoekers se dirigent in die lynstane wees wanneer hulle die Goue Leeus op Ellispark in Johannesburg in hul uiters belangrike Curriebeker-wedstryd aandurf.

De Jager, die stut Trevor Nyakane en flank/slot Oupa Mohoje het vandeesweek by die Vrystaters ingeval nadat hulle saam met die Springbokke in die Rugbykampioenskap in aksie was. De Jager en Mohoje is met vrug deur die Bokke in die lynstane aangewend en sal aan die Vrystaat broodnodige opsies bied wat hul eie ingooie betref.

Die Leeus is lief daarvoor om van hul eie lynstane af te dryf en as daardie maal-masjien aan die gang kom, vind enige span dit moeilik om dit te stuit. Maar De Jager is terug in Vrystaat-geledere en hy is oortuig dat die Bloemfonteiners die Leeus dáár kan troef as hulle die tuisspan onder druk kan plaas.

“Jy kan die dryfmaal keer, maar om dit te doen moet jy jou teenstanders onder druk sit sodat hulle net voor in die lynstaan ingooi. As hulle agter en in die middel ingooi is dit moeiliker om te stuit. Ons gaan die Leeus probeer beperk sodat hulle die meeste voor moet gooi en dan werk mens vandaar af om hom te stuit,” het De Jager gesê.

De Jager-hulle is vandeesweek werklik vir die eerste keer in die reeks by die Cheetahs betrokke en om sommer met die intrapslag in ‘n taai wedstryd teen die Leeus in te val sit nie in enigiemand se broek nie. En al het ‘n sterk span soos die All Blacks se liggaam tot die uiterste beproef lek De Jager steeds lippe af vir die Leeus-stryd.

“Ek voel goed. Ek moet sê ek is honger om te speel en lus om deel te wees van die aksie. Ek kan nie wag vir Saterdag nie. Ons gaan alles insit en kyk wat gebeur. Dit is ‘n baie belangrike wedstryd vir ons. Enigiets kan nog gebeur. Griekwas kan enige tyd die Blou Bulle op Loftus Versfeld klop. Mens weet nooit wat kan gebeur nie,” het De Jager bygevoeg.

Die goeie nuus vir die Vrystaat is dat hulle kan put uit die ervaring wat De Jager en sy spanmaats by die Springbokke opgedoen het. En die Bok-trio is oorgehaal om hul kant vir hul unie te bring.

“Dit was ‘n wonderlike ervaring gewees teen die All Blacks. Om op Ellispark te speel en te sien hoe die ondersteuners agter hul span staan is net ongelooflik. Maar nou is die fokus by die Vrystaat. Die week is ‘n grote vir ons. Veral vir ons drie ouens wat by die Springbokke was en nou terugkom.

“Ons gaan beslis probeer om ‘n verskil te maak en die tempo te help lig en te wys hoekom ons in die eerste plek daar was. Jy moet elke keer bewys hoekom jy ‘n Springbok is as jy op die veld gaan. Dit is die uitdaging. Dit is belangrik vir ons drie wat terugkeer,” het De Jager afgesluit.

Share.

About Author

Leave A Reply