Springbok Mohoje tot einde 2016 ‘n Cheetah

0

Die flank Teboho “Oupa” Mohoje sal vir die volgende twee seisoene nog as ‘n Vrystaatse Springbok bekendstaan nadat hy sy kontrak met die Wit Tornado tot einde 2016 verleng het.

Die 24-jarige Mohoje, wat ‘n reuse-rol vertolk het in die Springbok-span se geskiedkundige sege oor Nieu-Seeland in die pas afgelope Rugbykampioenskap, het aan DigiSport bevestig dat hy nog die volgende twee jaar by die Cheetahs gekontrakteer is en dus as Vrystater kan saamreis na 2015 se Wêreldbeker-toernooi in Brittanje.

Die wedstryd teen Nieu-Seeland op Ellispark en die gevolglike sege oor die besoekers word as die Bokke se beste vertoning van die reeks beskou en daar word nou reeds bespiegel dat die wêreld se voorste twee spanne later volgende jaar in die eindstryd van die rugbyskouspel kan kragte meet.

“Dit voel goed. Ek is bly dat ek kon deel wees van die Bok-span wat die All Blacks geklop het. Ons het dalk nie die Rugbykampioenskap gewen nie, maar ons het steeds baie goed gedoen. Dit was ‘n ongelooflike gevoel toe ons Nieu-
Seeland geklop het. Dit was wonderlik,” het Mohoje oor sy Bok-ervaring gesê.

Voor daar Wêreldbeker-drome gedroom kan word, moet Mohoje eers aan die onmiddelike toekoms dink en Saterdag teen die Goue Leeus in Johannesburg sy kant bring in die Vrystaat se strewe na ‘n plek in die halfeindronde van die Curriebeker-reeks.

“Dit is ‘n uiters belangrike wedstryd. Ons moet nie die wedstryd benader met enige ander ingesteldheid as dat ons dit móét wen nie. Dit is al waarop ons moet fokus. Ons moet op die dag ons heel beste gee en niks minder nie. Dit is wat nodig is,” het die Bok-slot bygevoeg.

Mohoje, die stut Trevor Nyakane en slot Lood de Jager is die drie Bok-versterkings wat die Cheetahs terugkry vir hul wedstryd teen die Leeus. En hoewel hulle tot dusver nog geen noemenswaardige rol in die Curriebeker-reeks gespeel het nie, sê Mohoje dat dit voel asof hulle nooit weg was nie.

“Ek, Trevor en Lood was nog nie in die Curriebeker-reeks betrokke gewees nie, maar ons het maklik ingeskakel. Baie van die strukture is steeds dieselfde as dit waaraan ons gewoond was so dit was nie moeilik nie. Ons is almal 100% gefokus,” het Mohoje gesê. En Oupa sal tog die beste weet…

Share.

About Author

Leave A Reply