Coenie praat reguit oor dáái voetbesering

0

Die Vrystaat-Cheetahs se Springbok-stut Coenie Oosthuizen is ná ‘n taai klompie maande weer in in die Bok-oefengroep ingesluit vir die komende jaareind-toer na Brittanje.

Sy insluiting volg nadat ‘n voetbesering sy Bok-deelname aan die afgelope Rugbykampioenskap gekniehalter het. Hy het maar onlangs eers in die Curriebeker-reeks sy terugkeer gemaak en met die intrapslag sommer vir die Vrystaat die wêreld aan die brand gespeel. Tog moes hy oor die televisie kyk hoe die Springbokke op Ellispark in Johannesburg ‘n geskiedkundige sege oor Nieu-Seeland behaal.

DigiSport het met Oosthuizen langs die Cheetahs se oefenveld gesels oor sy besering, die hartseer oor die Bokke se Kiwi-sege, sy rol as vaskop en loskop en die Cheetahs se skrum-vertonings tot dusver in die reeks. En die Bok-stut het openhartig geantwoord.

DS: Coenie, jy het weens jou besering die Bokke se oorwinning oor die All Blacks misgeloop. Dit was seker ‘n moeilike tyd?

CO: “Dit was vir my ongelooflik teleurstellend om nie daarvan deel te wees nie. Ek dink min mense sal verstaan waardeur ‘n ou gaan. Die ouens het ongelooflik goed gedoen. Dit was sleg om op die rusbank te sit en sien hoe die Bokke speel en te weet jy is nie daar nie. Dit is een van die hartseerste gevoelens wat jy in jou lewe sal kry. Maar ek moes die voet laat rus en op die einde van die dag glo ek dat ek beter anderkant sal uitkom.”

Coenie Oosthuizen is terug in sy gunsteling-posisie, naamlik loskopstut. Foto: Gerdie Karstens/DigiSport

Coenie Oosthuizen is terug in sy gunsteling-posisie, naamlik loskopstut. Foto: Gerdie Karstens/DigiSport

DS: Die voetbesering het jou nie enige gunse bewys wat speelkans betref nie. Dit was sekerlik ook frustrerend gewees?

CO: “Ek het die fout gemaak om drie wedstryde met die seer voet te speel. Op die einde van die dag was dit nie ‘n slim besluit gewees nie. Ek moes opgehou het die oomblik toe hy seergeraak het. Sonder jou voet kan jy niks doen nie. Ek moes na myself geluister het en die call gemaak het. Jy kan dit (die herstel) nie regtig aanjaag nie, want dan gaan jy hom net meer seer maak. Dit is maar hoe mens leer om hierdie soort ding te hanteer.”

DS: Die voetbesering was ontwrigtend gewees, maar jy het seker nooit gevoel dat dit iets is wat jou loopbaan in gedrang kan bring nie?

CO: “As beroepspeler sal jy nooit daardie punt bereik waar jy voel dit is die einde nie. Ek is al deur baie in my lewe. Met my nek-besering het baie mense gedink dit is die einde. Maar dit was nog nooit so erg dat ‘n dié soort besluit moes maak nie. Ek het nooit gevoel dit is wat ek moet doen nie. Op die einde van die dag gaan dit net oor hoe jy jou besering hanteer en bestuur.”

DS: Jy is eintlik ‘n loskopstut wat later vaskop ook gespeel het. Nou is jy terug in die nr. 1-trui. Wat het verander?

CO: “Ek het vaskop gespeel omdat ek dit wou speel. Ek wou die ervaring opdoen. Dit het egter negatief ingewerk op hoe baie ek die bal dra. Ek hou daarvan om die bal te dra. En ek hou daarvan om balle te gaps. Op vaskop was daar minder geleentheid daarvoor en dit was vir my nie so lekker nie. Ek wil terugkom na die lekker van rugby speel. Ek dink ek het op vaskop effe daarvan afgedwaal en dis hoekom ek besluit het ek gaan weer loskop speel. Ek gaan voortaan net daarop fokus en dit geniet, want dit is tog waarom ek speel.

DS: Jy is terug in die Cheetahs-voorry. Hoe sal jy die pak se huidige vertonings in die reeks beskryf? En het jy hulle bygestaan met raad toe jy beseer was?

CO: “Ons Cheetahs-pak is deur baie aan die begin van die Curriebeker-reeks. Party goed het nie vir ons gewerk nie en ons het hard gewerk om dit reg te kry. Elke ou se insette was baie belangrik op die einde van die dag. Ek dink elke ou het sy insae gegee wat die skrums betref en ons het agtergekom wat werk vir ons en wat nie. Om op die kantlyn te staan en vir iemand te verduidelik wat hy moet doen is nie altyd so maklik as om dit self te doen nie. Dit is vir my baie lekkerder om terug in die span te wees en ouens te help waar ek kan.”

Share.

About Author

Leave A Reply