Knights gerat vir eendagreeks

0

Die Knights is dalk die huidige voorloper vroeg in die Sunfoil meerdag-reeks, maar die kaptein, Werner Coetzee, en sy span sal nie te veel in hul posisie op die puntelys lees wanneer hulle die naweek in Kimberley in die Momentum Cup-eendagreeks teen die Cape Cobras op die krieketveld stap nie.

Op die rug van twee seges in die meerdagreeks – oor die Warriors en Lions – reis Coetzee en sy maats na die Diamantstad om die Cobras daar te pak. En nadat hy wat Coetzee is die naweek in sy 100ste eersterangse wedstryd gespeel het, het nie net die span nie, maar ook hy genoeg momentum wat hulle saamneem.

“Ons is dalk eerste op die puntelys wat die meerdag-krieket betref, maar dit is nog baie vroeg in daardie reeks. Nietemin was dit ‘n goeie begin en sal ons ons momentum wil saamvat Kimberley toe en dieselfde vir die eendagreeks regkry. Ons is opgewonde oor die eendagkrieket. Wit balle en gekleurde klere. Dit is baie opwindend,” het die Knights-kaptein aan DigiSport vertel.

Die Knights het as voorbereiding onlangs ‘n opwarmingswedstryd in Kimberley gespeel. Die Diamant-ovaal is tradisioneel bekend vir ‘n kolfblad waar daar nooit ‘n tekort aan lopies is nie, maar Coetzee gee toe dat die tuisspan ook nie seker is wat om te verwag nie.

“Toe ons in die voorseisoen daar gespeel het, het die kolfblad baie snaakse streke uitgehaal so mens kan nie regtig voorspel wat op ons wag nie. Ons het ook nie vir ‘n spesifieke blad gevra nie. Ons speel maar wat ons kry. Dit sal teen die Cobras dieselfde wees. Ons sal fokus op wat ons moet doen. Hulle het ouens soos Rory Kleinveldt en Justin Ontong in hul geledere. Dit is nog onseker of Vernon Philander gaan speel, maar in die geheel is hulle ‘n baie ervare span wat ons deeglik gaan beproef,” het Coetzee ygevoeg.

En oor die 100ste wedstryd waarin hy gespeel het en met die kolf en bal sy kant gebring het, is Coetzee eintlik heel beskeie. “Dit was baie lekker om die naweek af te sluit met die oorwinning. Om die eerlike waarheid te praat, ek het nooit regtig daaraan gedink dat dit my 100ste wedstryd was nie. Ek was maar net bly ek kon ‘n paar paaltjies neem en ‘n paar lopies aanteken,” het Coetzee afgesluit.

 

 

Share.

About Author

Leave A Reply