Cillliers: Rossouw kan met wilgerlat inklim

0

Die Knights-afrigter, Sarel Cilliers, verwag dat sy Proteas-kolwer Rilee Rossouw sommer in die komende plaaslike meerdagreeks al behoorlik met die kolf gaan inklim om opnuut sy plek in die Suid-Afrikaanse groep vir die komende toer na Nieu-Seeland te bespreek.

Die Knights speel van Donderdag af in hul eerste meerdag-kragmeting tuis teen die Warriors en Cilliers glo dat Rossouw, wat onlangs op die franchise se krieketplegtigheid as die Knights se Speler van die Jaar aangewys is, sommer met die intrapslag die wilgerlat sal swaai om sy gereedheid vir nasionale diens te beklemtoon.

“Rilee sal beslis daarop uit wees om te wys hy hoort in die nasionale opset, veral met die toerwedstryde in Nieu-Seeland op hande. Hy het verlede week in ons opwarmingswedstryd in Kimberley 109 lopies van 80 balle gemoker en is beslis oorgehaal om dit weer te doen,” het Cilliers onderstreep.

Die Knights begin vroeg in Oktober hul aanslag op die plaaslike eendag-titel, met die toerwedstryde na Kiwi-land wat die laaste twee weke van Oktober plaasvind. Daar is dus oorgenoeg tyd vir Rossouw om sy vere reg te skud en te wys dat hy die twee nulletjies wat hy onlangs vir die Proteas behaal het, vergete is.

Intussen is Cilliers tevrede met sy spelers se voorbereding vir Donderdag se wedstryd teen die Warriors en voel die afrigter dat sy span goed toegerus is vir dit wat die volgende paar dae deur die Warriors in Bloemfontein opgedis gaan word.

“Ouens soos Shadley van Schalkwyk en Duanne Olivier is fiks verklaar, maar ons is nog nie seker oor die werkslading wat hulle gaan ervaar wat boulwerk betref nie. Verder is al die ouens fiks. Die boulers is waar hulle moet wees en die kolwers is op peil. Ons sal Dinsdag ons span kies, maar ons is gelukkig met ons voorbereiding,” het Cilliers bygevoeg.

Dit is dalk die Knights se eerste amptelike wedstryd van die seisoen, maar volgens Cilliers is daar genoeg beeld-materiaal van die Warriors beskikbaar sodat die Knights deeglik voorbereid sal wees.

“Die Warriors het hier en daar ‘n speler bygekry, maar verder nie veel verander nie. Ons het baie beeld-materiaal van hul wedstryde en ons voorbereiding behels alles wat ons daaruit wysgeword het,” het die Knights-breier afgesluit.

Share.

About Author

Leave A Reply