Swanepoel: WB nie vir Super Sarel beskore

1

Die Cheetahs-skrumskakel Sarel Pretorius is een van Suid-Afrika se grootste spelbrekers wat met sy invloedryke bydraes al menigmaal in Superrugby of die Curriebeker-reeks ‘n wedstryd op sy kop gekeer het.

En een van die grootste onregte wat die buksie tot nog aangedoen is, is dat hy nie deur die huidige Springbok-afrigter, Heyneke Meyer, selfs vir ‘n oefenkamp betrek is nie. Pretorius is ‘n ervare kalant wat by Griekwas, die Waratahs en nou die Cheetahs en Vrystaat as een van hul staatmakers beskou word, maar sy inklimspel is nie genoeg om vir hom ‘n plek by die Bokke te bespreek nie, laat staan nog volgende jaar se Wêreldbeker-reeks in Engeland.

Volgens die voormalige Springbok-skrumskakel Werner Swanepoel, is Pretorius beslis ‘n staatmaker en spelbreker, maar is die kans skraal dat hy volgende jaar van die Wêrelbeker-reeks gaan deel wees juis omdat die Bokke se wedstrydplan nie vir sy uitsonderlike vermoë op die veld plek maak nie.

Werner Swanepoel het in sy dae as Bok-skrumskakel die bestes laat bontstaan. Foto: www.sporting-heroes.net

Werner Swanepoel het in sy dae as Bok-skrumskakel die bestes laat bontstaan. Foto: www.sporting-heroes.net

“Sarel is beslis ‘n spelbreker, maar die Springbokke se spelpatroon onder Heyneke Meyer as afrigter laat bitter min ruimte vir ‘n spelbreker. Heyneke het sy idee van hoe sy span se spelpatroon lyk en op die oog af is Sarel nie deel van sy planne nie. Dit is baie sleg vir Sarel, want hy het baie talent, maar as jy kyk na die huidige Bok-opset word ouens soos Fourie du Preez, Francois Hougaardt en Ruan Pienaar verkies. Ek dink dus nie die Wêreldbeker-toernooi is Sarel beskore nie,” het Swanepoel gesê.

Super Sarel se inklimspel by die Cheetahs het van hom ‘n soort talisman by die sentrale streekspan gemaak en dit is asof die Vrystaters net soveel meer byt het in hul agterlyn as hy van hul 15-tal deel is. Dit is dus betreurenswaardig dat ‘n gesoute skrumskakel soos hy nie vir beter dinge bestem is nie.

“‘n Skrumskakel se skopwerk is vir die Springbokke baie belangrik. Van hulle almal kan net Fourie du Preez die bal op ‘n tiekie neersit. Kyk maar na wedstryde waar Ruan of Francois betrokke is. Dit is asof die Bokkie nie dieselfde byt het as Du Preez nie daar is nie. Sarel doen alles uitstekend vir die Cheetahs, maar dit gaan waarskynlik nie genoeg wees om sy plek in die Wêreldbeker-groep te bespreek nie. Hy is een van daai ouens oor wie jy eendag om die kampvuur gaan gesels en dan steeds wonder hoe hy nie ‘n Springbok geword het nie,” het Swanepoel afgesluit.

Share.

About Author

1 Comment

Leave A Reply