Cilliers wíl by Knights aanbly

0

Die Knights-breier, Sarel Cilliers, sal graag wil sien dat sy kontrak by die franchise na afloop van die huidige krieket-seisoen verleng word.

Die 43-jarige Cilliers, wat in sy sesde seisoen as afrigter by die franchise betrokke is sedert sy aanstelling in 2009 in die plek van Corrie van Zyl, het aan DigiSport erken dat die Knights se prestasies die komende paar maande waarskynlik sal bepaal of sy kontrak wat in April volgende jaar verstryk, weer hernu sal word.

“My kontrak verstryk aan die einde van die huidige seisoen. Dit is ‘n prestasie-kontrak en uiteraard is die Knights se prestasies dus belangrik. Dit is wel my plan om as afrigter van die Knights aan te bly as die plaaslike krieketraad dit goeddink,” het Cilliers aan DigiSport gesê.

Sarel Cilliers

Sarel Cilliers. Foto: Facebook

Die Knights skop hul seisoen op 25 September af wanneer hulle die Warriors op Chevroletpark in Bloemfontein in die eerste van ‘n rits meerdag-wedstryde pak. Die week daarop speel hulle weg teen die Lions in Potchefstroom waarna hulle weer na die Rosestad terugkeer om later in Desember die Titans op hul tuisveld aan te durf.

“Daar gaan hierdie seisoen weer verskeie uitdagings wees. Die grootste daarvan is om te poog om konstant goeie vertonings te lewer en wedstryde te wen. Sodoende plaas jy jouself in ‘n goeie posisie om titels te verower. Die wen-gewoonte, span-kultuur en ‘n goeie balans in spanne is belangrike om dit te bereik en dis waaraan ons daagliks werk. Die verbetering van vaardighede onder druk in’n besige skedule is ook ‘n uitdaging en iets waaraan ons wedstryd vir wedstryd wil aandag gee,” het Cilliers gesê.

Met die veteraan-kaptein, Johan van der Wath, wie se kontrak nie verleng is nie, is die ervare Werner Coetzee as die Knights se nuwe kaptein aangestel, met Pite van Biljon as sy onderkaptein. Hulle sal albei sterk leierskap-rolle in die Knights se sukses vertolk.

Werner het die span werklik goed gelei toe Johan beseer was en was soos Pite van Biljon baie sterk in sy onderhoud wat met die raad gevoer is. Hy het goeie ondervinding as leier en ons glo dat hy die beste uit elke speler sal kry,” het Cilliers afgesluit.

Die Knights se volledige groep vir die 2014/2015-seisoen: Werner Coetzee (k), Pite van Biljon (o/k), Reeza Hendricks, Tumelo Bodibe, Gihahn Cloete, Rudi Second, Diego Rosier, Dillon du Preez, Corné Dry, Shadley van Schalkwyk, Quinton Friend, Tumelo Masikhela, Johannes Diseko, Malusi Siboto, Obus Pienaar, Duanne Olivier, Rilee Rossouw, Gerhardt Abrahams.

Share.

About Author

Leave A Reply